| Notes |
- Genl. J.C.G. Kemp gebore10 Junie 1872Jan Christoffel Greyling Kemp, gebore in die Amersfoort distrik , het sy opvoeding aan die Staats gimnasium in Pretoria ontvang en het daarna onder meer in die kantoor van die mynkommissaris op Krugersdorp gewerk. Hy het aan die Magato-oorlog (1895) en die krygsverrigtinge met die Jameson-inval (1895 tot 1896) deelgeneem. In die Engelse Oorlog het hy as lid van die Krugersdorpse kommando aan die eerste gevegte in Natal deelgeneem en is hy in Junie 1900 in Noord-Transvaal tot kommandant verkies. In Februarie 1901 is hy as veggeneraal aangestel, en in die hoedanigheid het hy sy bekwaamheid en waaghalsigheid getoon in gevegte soos die by Moedwil (30 September 1901) en Ysterspruit (25 Februarie 1902). Met die vredesonderhandelinge op Vereeniging, was hy een van die ses afgevaardigdes wat teen die vredesvoorwaardes gestem het. In 1912 het genl. J.C. Smuts hom oorreed om hom by die pas gestigte Unie-Verdedigingsmag aan te sluit, maar op 13 September 1914 het hy sy offisiersrang neergelê uit protes teen die Botha-regering se oorlogsbeleid en aktief aan die Rebellie (1914 – 1915) deelgeneem. Sy grootste militêre prestasie was waarskynlik sy heldetog deur die Kalahari in hierdie tyd. Na aanvanklike militêre welslae, was hy verplig om hom op 2 Februarie 1915 aan die regeringstroepe oor te gee. Na ‘n periode van tronkstraf, is hy op 22 November 1916 vrygelaat. Nadat hy lid geword het van die Nasionale Party, is hy in 1920 tot Volksraadlid vir Wolmaransstad verkies; hy het hierdie kiesafdeling tot sy dood verteenwoordig. Van 1924 tot 1934 was hy Minister van Landbou en het hy ook met die nood van ekonomiese depressie te kampe gehad. Hy het genl. J.B.M. Hertzog by die samesmelting met die Suid-Afrikaanse Party gesteun en daarna Minister van Lande geword, maar in 1936 en 1938 tydelik as Minister van Verdediging waargeneem. In die hoedanigheid het hy op 15 Desember 1938 tydens die Voortrekker eeufeesviering aangekondig dat Robertshoogte voortaan as Voortrekkerhoogte sou bekend staan. In die Tweede Wêreldoorlog het Kemp genl. Hertzog se neutraliteit voorstel gesteun en hom daarna by die Herenigde Nasionale Party aangesluit en medeleier van die party in Transvaal geword. Kemp is op 31 Desember 1946 op Piet Retief oorlede. Hy was ‘n dapper en vasberade man wat vurig aan ‘n republikeinse regeringsvorm vir Suid-Afrika geglo het. aka fak C.M.B
===
Ons krygsoffisiere - Jan Christoffel Greyling Kemp
Genl. Jan Kemp
Jan Christoffel Greyling Kemp is in 1872 in Amersfoort in die Suid-Transvaal gebore. Hy is die seun van Jurie Johannes Kemp en sy vrou, Maria Aletta Greyling. Kemp het sy skoolopleiding aan die Staatsgimnasium in Pretoria ontvang. In 1889 het hy 'n klerk in die onderwysdepartement van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die hoofstad geword. Kort daarna is hy na die mynkommissaris se kantoor in Krugersdorp oorgeplaas. Teen 1899 was hy reeds 'n hoofklerk.
Wat militêre ondervinding betref, het Kemp in 1895 deelgeneem aan die veldtog teen die swart opperhoof Magato. Aan die einde van dieselfde jaar was hy betrokke by die bekamping van Jameson se inval.
Toe hierdie oorlog 20 maande gelede uitgebreek het, het Kemp as gewone manskap by die Krugersdorp-kommando aangesluit. Hy het aan talle gevegte aan die Natalse front deelgeneem en word in November 1899 tot assistent-veldkornet verkies. Hy het later onder genl. Christiaan Beyers in Noord-Transvaal gedien en is hierdie tyd verlede jaar tot kommandant verkies. In Desember verlede jaar het hy 'n leiersrol gespeel in die beroemde geveg by Nooitgedacht, waar hy lig in die arm gewond is.
In Februarie vanjaar het genl. Beyers vir Kemp aangestel as veggeneraal en opdrag gegee om met genl. De la Rey in Wes-Transvaal kontak te maak. Gevolglik was hy die afgelope tyd suid van die Magaliesberg bedrywig, waar hy dan ook verlede maand so byna 'n groot wapensukses afgedwing het. Dat die jonge Kemp hy is nog nie eens 30 jaar oud nie vir groot dinge bestem is, is onbetwyfelbaar.
http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2001/06/02/6/10.html
|