D’Hoop (Rhodesië)
| Agtergrond: |
Willem Schalk Du Plessis en Barbara Meintjies het van Vaalkop, in Zeerust, Marico (Groot), na Rhodesië getrek en hulle in die Figtree en Motobo omgewing gevestig. Oupa Cor Du Plessis (Cornelius Johannes) het hier groot geword voor hulle na sy ma se dood in 1922, toe hy ongeveer 14 jaar oud was, weer die terugtog Suid-Afrika aangepak het. Sien elders sy vertelling van sy noue ontkoming as kind met ‘n toordokter.
Barbara Christina se sterfdokumente uit Rhodesië wys dat sy op Matibi plaas in die Matobo omgewing van Plumtree gewoon het. Sy is op 22 Aug 1922 (op die ouderdom van 51jr 3m 18d) aan “Dropsy”, waaraan sy vir 18 maande gely het, op Champion Block oorlede en is ook daar begrawe. Klaarblyklik was haar oudste seun Johannes DU PLESSIS, ‘n vername grootwildjagter, die enigste persoon wat die ligging van haar graf geken het.
Haar sterfsertifikaat dui ook aan dat Willem Schalk op daardie stadium op die D’Hoop plaas in die Figtree omgewing woonagtig was. Volgens Rhodesiese dokumente het hy in 1924 aansoek gedoen vir ‘n sertifikaat om weer in die huwelik te kan tree.
Na Barbara Meintjies se dood het Willem Schalk na Suid-Afrika teruggekeer en op Dassieklip, langs Sandspruit Stasie (Volksrust) gaan woon en is hier met die weduwee Cecilia Johanna LABUSCHAGNE getroud.
Oupa Cor se suster Barbara Christina, getroud met Henry Chomse het ook in Rhodesie gebly en is hier oorlede. Sy suster Alida (Alie), getroud met John Douglas De Haast, het ook vir ‘n tydperk in Rhodesië gewoon maar na die val van Ian Smith se regering teruggetrek Suid-Afrika toe.
Die spesifieke ligging van hul plase is nie bekend nie. Een verwysing na D’Hoop in daardie omgewing kon egter op ‘n kaart gevind word en dit mag dalk die omliggend area waar hulle geboer het wees en word hieronder aangedui.
| Moontlik ligging: Plaas D'Hoop - Rhodesië - DU PLESSIS Willem Schalk |

| Plaas: D'Hoop (Figtree omgewing)GPS: -20.462509, 28.307086 |