Balmoral Hotel – Durban
Ouma Miemie en Oupa Cor het nie baie gaan vakansie hou nie, maar wanneer hulle wel het was die Balmoral Hotel in Durban hulle voorkeur. Ek vermoed Oupa Cor het as gevolg van sy werk op die Spoorweë afslag gekry op die treinkaartjies Durban toe.
Die bestuur en werknemers het “Mrs. Du Plessis” baie goed geken. Dit was ‘n statige gebou met soortgelyke binnehuise versiering.
Ons het hulle daar besoek en saam gekuier op die strand en in Durban wanneer ons ook in die omgewing gaan vakansie hou het.
Ons was nie werklik gewoond aan hotelverblyf nie, so vir my was dit baie indrukwekkend en soms selfs effe intimiderend. Daar was byvoorbeeld ‘n portier by die draaiende deur by die ingang en selfs iemand wat jou bagasie kamer toe neem. Die hysbakke was ook van ‘n ou tipe wat met hekke toegeskuif het as ek reg onthou. Die eetkamer was ook baie stylvol en die eetgerei pragtig silwer en ek het my verstom aan al die verskillende messe en vurke.