Select Page

Bruintjesrivier 203 (RSA)

Bruintjesrivier 203 (RSA)
Agtergrond:

Bruintjesrivier of Bruintjiesrivier is die name van plase in die Swellendam omgewing wat geleë is langs die rivier met dieselfde naam wat van die Langeberg in die ooste na die binneland vloei waar dit in die weste by die Breërivier aansluit.

Bruintjies of Bruintjes is volgens een bron klaarblyklik ‘n verwysing na ‘n vorige eienaar, ene Streicher, se perd, of volgens ‘n Huisgenoot artikel na ‘n bekende rondloper perd in die area. Dit is onduidelik of die rivier of die plaas eerste sy naam gekry het.

Bruintjiesriver word van Noord na Suid deur die R60 verdeel wat Aston met Swellendam verbind. Die oostelike deel aan die voet van die Langeberge is oorspronklik deur Hermanus Steyn D’Oude besit en is later in Joubert besit hernoem na Joubertsdal (Volgens brief van Ellie Joubert – sien elders onder Terugblikke). Dit was ook die familieplaas van die skryfster Freda Linde (nooi Joubert) en sy skryf in haar boek “Terug na die Mimosas – Freda Linde (1944 Unie-Volkspers)  Essays en sketse” , asook in ‘n artikel “Bruintjiesrivier — Toe en Nou” in “Die Tydskrif vir Letterkunde 11:3 (1973)”, oor haar herinneringe as kind daar.

Die plaas aan die westelike deel naby die Breërivier was die eiendom van Johannes Stephanus Joubert. Die plaas is na Johannes Stephanus se dood na sy weduwee Magdalena Margaretha Uys oorgedra en ons vind haar naam in verwysings van akte dokumente vir 1853. Ons oupa-grootjie Paul Jozua Joubert is daar gebore  en het daar groot geword.

Dit bestaan uit verskeie dele waaroop verskillende families woon en verwysings daarna is nie noodwendig na een spesifieke deel nie. Soms is daar bykomende inligting wat dit duideliker maak soos byvoorbeeld “… sy gaan woon waar die Bruintjiesrivier by die Breërivier inloop”.

Die Joubert en Steyn familie is met verskeie huwelike aan mekaar verbind. Bruintjiesrivier het dus is sommige gevalle as gevolg van oorerwing deel van die Joubert-familie geword, en in andere gevalle is dit van aangetroude familie gekoop. Die Joubert-familie het ook in ander dele ‘n rol gespeel en Dirkie Joubert deel byvoorbeeld haar ervaringe oor die Joubert en Van Zyl families van Montagu, asook Montagu se ontstaan, in haar boek “Herinneringe uit die verlede  – Dirkie Joubert | Mev. H.M. Evans (1956)”.

Ander verwysings: 

“… JOUBERTSDAL:  This farm has been made up out of portions of Bruintjesrivier ( see above ) , granted in freehold in 1747 to Cornelis van Rooyen , one of the first heemraden of Swellendam. In 1848 a large quitrent addition to Bruintjesrivier…”

“… Bruintjesrivier: Granted 1743 to Hermanus Steyn , sr , but a modest homestead might already have been standing . … JOUBERTSDAL This farm has been made up out of portions of Bruintjesrivier ( see above ) , granted in freehold in 1747 to… “

Fotos: Ligging

Fotos: Joubert Persoonlikhede - Pieter Joubert, Wynmaker (Montagu)

Rivier: Bruintjiesrivier
GPS: -33.991802, 20.234556